T'sats se kind 9781869192013

9781869192013
70,00 NAD each

T'sats se kind

By Willem D. Kotze

ISBN 9781869192013

Protea Boekhuis, 2007

Hierdie roman is 'n vervolg op T'sats se wraak (1996), maar ook 'n onafhanklike verhaal. Soos in Kotze se vorige nege vorige werke word die Kalahari en sy inwoners met soveel kennis en insig geskets dat dit as 't ware vir die leser 'n werklikheid word en, hoewel dit in die eerste plek fiksie is, is dit ryk aan kultuurhistoriese inligting. In T'sats se kind: Tk!olie vervloei feit en fiksie. T'sats, die hoofkarakter in verskeie van Kotze se verhale, het as kind saam met hom skaap opgepas langs die Nossobrivier.

Nou word T'sats se kind Tk!olie (asook twee ander Boesmanjagters), deur die polisie gevange geneem en na Gobabis gestuur omdat hulle 'n eland – wat kroonwild is – geskiet het. Die goedhartige magistraat beplan om Tk!olie saam met die ander twee jagters terug te stuur Kalahari toe wanneer hulle gevangenisstraf uitgedien is. Intussen moet hy egter iemand vind om toesig oor Tk!olie te hou, want hy wil ook nie die minderjarige Boesmankind in die tronk opsluit nie.

Magistraat Van Ryneveld gee hom vir Freek van Staden, 'n boer in die omgewing, onder die voorwendsel dat hy hom kan hou, aangesien die magistraat vrees dat die boer hom andersins nie sal inneem nie. Maar voor Tk!olie-hulle vrygelaat word, vertrek die magistraat op 'n tog na die Kalahari. Hy gaan om die Kalahariboesmans in te lig oor die wet aangaande die jag op elande sodat nog arrestasies verhoed kan word. In die annale van die destydse Suidwes-Afrika, tans Namibie, staan dit opgeteken dat magistraat Van Ryneveld op 26 Julie 1922 in die Kalahari deur 'n Boesman – volgens hierdie verhaal die legendariese

T'sats – met 'n gifpyl doodgeskiet is.

Voor die magistraat sterf, skiet hy uit selfverdediging T'sats ook dood. T'sats se kind: Tk!olie is die verhaal van Tk!olie se wedervaringe en terugkeer na sy mense in die Kalahari – ten spyte van die feit dat sy Westerse en ouerlike beskermhere mekaar vermoor. Uiteindelik is hierdie roman 'n tragiese maar ook humoristiese blik op die misverstande wat deur kultuurverskille en gebrekkige kommunikasie ontstaan.