Skadu oor die sonwyser
By Kobus Lombard
ISBN 9781485303022
Protea Boekhuis, 2015
Kobus Lombard se vierde digbundel word gekenmerk deur ’n sterk gevoel vir plek. Soos te verwagte is daar verwysings na bekende plekke in Namibie, soos Gobabis, Rundu, Swakopmund, die stad Windhoek, die Kavango- en Nossobrivier, die woestyn en die seekus van die dood. Selfs in gedigte waar daar geen duidelike verwysings na die Namibiese landskap is nie, bly die leser bewus van die wye en dikwels ongenaakbare landskap wat die agtergrond vir die meeste gedigte vorm, soos in “Ylblou berg”: “ … word hy bruin en ruig begroei/met swart voels wat sirkel/teen die grynslag van sy kranse”. Hierteenoor is daar in baie gedigte ook sprake van kleiner, intiemer en mensliker ruimtes: ’n strandhuis, die binneruimte van ’n kerk, museums, restaurante, selfs grafte en ’n klerekas. Met sowel die groter as die intiemer ruimtes tree die digter in gesprek.
Dit is opmerklik hoe dikwels die aanspreek van plekke, mense en dinge die inslag van die gedigte vorm, asof die digter homself gedurig in verhouding met die ander stel en in die gedig hierdie verhouding wil verken en peil. Verweef met die menslike verhoudings is ook die verhouding met die verlede, met sy eie kinderjare en ’n verbygegane plattelandse lewe, wat nooit geromantiseer word nie, maar met ’n effens ironiese toon opgeroep word, soos in die gedig “Gobabis”, waar die verval van die dorpie so geteken word: “die stof hang ’n kring om die sweet van jou tiervelhoed/die vensters van jou oe is gebreek/jou mure skilfer soos oumensvel”.
Die digter kyk ook ewe ironies na menslike gedrag in verskillende kontekste: kerkgangers, besoekers aan restaurante, die beheptheid met fiksheid, die verandering van straatname en selfs sy eie skryfpogings. Oor al hierdie dinge en verskynsels val die skaduwee van die sonwyser, en word die leser vroeg reeds bewus van die verbygaan van tyd sodat sekere dinge onafgehandel moet bly (“Ongevra”) en die onvermoe om te behou of te bestendig: “vergeefs soek ons taal/wat ruik na vars hopies grond/om ons verliese te begrawe”.