Vee, Veld & Geldbestuur vir Veeboere 9781049281872

veldbestuur_1080169862
990,00 NAD each

The add to cart button will appear once you select the values above

Vee, Veld & Geldbestuur vir Veeboere

Dr Louis du Pisani

ISBN 9781049281872

Kejafa Knowledge Works, April 2026

A4 Volkleur 188 bladsye

Hierdie boek is nie geskryf om boere te leer hoe om iets uitsonderliks te doen nie, maar om boere te help om die basiese aspekte van ‘n veeboerdery uitsonderlik goed te doen. Dit is juis die eenvoud van goeie bestuur wat die verskil maak tussen boerderye wat oorleef en dié wat floreer. Veeboerdery in Suidelike-Afrika verkeer uit verskeie oorde onder druk. Klimaatsverandering en aardverwarming bring groter reënval-onsekerheid en meer ekstreme weerstoestande. Natuurlike hulpbronne – veral veld en grond – toon tekens van broosheid. Swak biosekuriteit stel boerderye bloot aan siektes wat produksie en marktoegang bedreig.

Produkpryse is wisselvallig, terwyl insetkoste aanhou styg en die ruilvoet verswak. Predasie neem toe, en waardevolle landbougrond word toenemend verdring deur verstedeliking en mynbou. Teen hierdie agtergrond voel dit soms asof die boer ‘n verlore stryd voer. Die versoeking in sulke tye is om te soek na die nuutste wonderoplossing — ‘n nuwe ras, ‘n nuwe produk, ‘n nuwe stelsel wat belowe om alles reg te maak. Maar ervaring, navorsing en praktyk wys keer op keer: volhoubare sukses lê selde in iets besonders. Dit lê in dissipline, konsekwentheid en goeie uitvoering van die grondbeginsels. Jim Collins stel dit eenvoudig: “Good is the enemy of great” - “Goed is die vyand van uitstekend.” Hierdie boek nooi jou uit om nie te tevrede te wees met middelmatige veld, gemiddelde diereprestasie of vae finansiële beheer nie — maar om die fondament van jou boerdery doelbewus te versterk. Die kernboodskap is dat veld die basis van alles is.

Gesonde, goed bestuurde veld wat maksimaal voer en voeding produseer, is die goedkoopste en betroubaarste bron van produksie. Veld wat gesond is — met lewende wortels, goeie spesiesamestelling en grondbedekking, en maksimum biologiese aktiwiteit — is nie net meer produktief nie, maar ook meer veerkragtig teen droogtes en klimaatskommelings. Soos Allan Savory dit gestel het: “The only wealth that can regenerate itself, is life.” Van die veld vloei alles anders. Diere wat by die plaaslike omgewing aangepas is, benut die veld beter, handhaaf hul kondisie onder moeilike toestande, en produseer meer per hektaar met minder risiko. Maksimum produksie per dier is nie altyd die doel nie; maksimum produksie per hektaar wat volhoubaar en herhaalbaar is, is wel. Dit vereis nie uitsonderlike diere nie, maar die regte diere op die regte plek teen die regte getalle. Ekonomiese en finansiële bestuur in hierdie konteks is nie ‘n afsonderlike aktiwiteit nie, maar die spieëlbeeld van goeie veld- en veebestuur. Wins is nie ‘n gelukstreffer nie; dit is die resultaat van duidelike doelwitte, eenvoudige maatstawwe en die konsekwente uitvoering en monitering daarvan. Peter Drucker het gesê: “Efficiency is doing things right; effectiveness is doing the right things.” Hierdie boek fokus op beide — maar begin altyd by die regte dinge.

Droogtes is nie ‘n abnormale gebeurtenis in Suidelike Afrika nie; dit is deel van die stelsel. Die vraag is nie of droogtes weer sal kom nie, maar hoe goed jou boerdery daarop voorberei is. Stelsels wat veldgesondheid verbeter, veegetalle aanpas by die beskikbare voer, vee wat by die omgewing aangepas is en finansiële reserwes daarstel, skep ruimte om droogtes te oorleef sonder paniekbesluite wat langtermyn skade kan veroorsaak.